“God het aan elkeen van julle ‘n genadegawe gegee. Met hierdie gawes moet julle mekaar dien sodat God se ryk genade deur julle na mekaar toe kan vloei.” – 1 Petrus 4:10
Ons weet ons is uniek in ons talente en het nie almal dieselfde roeping nie, maar hoekom het ons dan eintlik ‘n roeping?
God het ons juis met talente, passies of gawes geseën sodat ons mekaar kan help en mekaar kan dien. Dink aan bv. ‘n dokter. Mense wat geseënd is met genoeg breinkrag om so baie kennis te behou oor die menslike liggaam, deel dit met ander deur hulle te help met hulle gesondheid. Iemand anders het weer ‘n hart vir bejaardes.
Daardie gevoel in jou binneste moet jou tot aksie bring sodat jy ‘n positiewe verskil in iemand se lewe kan maak. Jou dade moet ander help om God se liefde en teenwoordigheid in hulle lewe te voel. Ons almal moet probeer om ander mense te dien en die wêreld ‘n beter plek te maak.
Al voel jy moedeloos en al dink jy dalk dit wat jy doen, sien niemand raak nie, hou aan om te doen wat die Here op jou hart plaas. Hy werk in jou en deur jou om in die behoeftes van ander te voorsien. Jy het ‘n spesiale gawe van die Heilige Gees gekry. Besef dit en gebruik dit sodat ander vir God kan dankie sê dat Hy betrokke is in hulle lewens en dat Hy jou gebruik het om ‘n verskil in hulle lewe te maak.
Wat Is My Roeping? Hoe Maak My Roeping ‘n Inpak Vandag?
Gebed: Here, help ons om nie hoogmoedig te raak as ons agterkom ons het ‘n spesiale gawe van U ontvang nie. Help ons asseblief om ander mense se lewe makliker te maak deur ons gawes te gebruik soos U ons lei. Amen.
Uitdaging: Kyk vandag hoe jy die lewe vir iemand makliker kan maak deur jou gawe te gebruik om hulle te dien.