📖 Psalm 16:11 “…oorvloedige vreugde in U teenwoordigheid.”
Die Heilige Gees wat in jou is help jou en stel jou in staat om vrug te dra. Die tweede vrug na liefde is vreugde. Onthou daar is ‘n verskil tussen vreugde en blydskap. Vreugde is dit wat jy binne jouself beleef, iets innerlik. Vreugde is soos die son self, dit bly daar, al is dit agter die wolke. Al hang daar ‘n donker wolk oor jou kan jy nog steeds oorvloedige vreugde vind in die teenwoordigheid van die Here.
Die verlore seun het vreugde in en by sy vaderhuis gevind. Paulus en Silas het gesing toe hulle in die tronk was. Verbly jou in die Here, ek herhaal, verbly jou in die Here!
📌 In maklike of moeilike omstandighede, in die donkerste donker en in die helder lig, vind jou vreugde in die Here.
🙏 Gebed: Ons hemelse Vader, U is die Landbouer en ek is die boom. Laat my takke so laag hang dat dit maklik is vir ander om die vrug van vreugde te pluk. Dankie dat U my bron van vreugde is. U vreugde laat my weer glimlag en skaterlag. Amen.
🔥 Uitdaging: Identifiseer die mense of dinge wat jou daaglikse vreugde wil steel. Dink ook na oor die vreugdes wat God aan jou skenk.
(geskryf deur Rion van Niekerk)