‘Gaan met die wyse om, dan word jy wys; maar hy wat met dwase verkeer, versleg.’ – Spreuke 13:20
‘Twee is beter as een, want twee mense kan meer regkry as net een. As die een val, kan die ander een hom ophelp. Dit is sleg as die een val en daar is niemand om hom te help nie.’ – Prediker 4:9-10
Ons vriende is vir ons as tieners die heel belangrikste. Belangriker as ons ouers of ons verantwoordelikhede. Wie jou vriende is, vertel baie van jou. Dan Pena het gesê: “Wys my jou vriende en ek wys jou jou toekoms.” As iemand vir jou sê dat jy soos jou beste vriende optree, sien jy dit as ‘n belediging? Of sal jy goed voel as jy soos hulle optree? Vriende het ‘n baie groter invloed op jou as wat jy dink.
Ons begin vanself lyk na die mense met wie ons die meeste tyd deurbring. Ons leer hul gewoontes en maniere aan, goeies en slegtes. As jy goeie vriende het wat God dien, sal jy hulle positiewe gewoontes aanleer. Dieselfde gebeur met slegte vriende. Die enigste verskil is dat jy negatief beïnvloed word.
Invloed vind aan beide kante plaas, so kies jou vriende versigtig. Dis aanvaarbaar om vriende te hê met foute. Dis nie aanvaarbaar om vriende te hê wat jou wegdryf van God en Sy Woord nie. Indien jy sulke vriende het, moet jy dalk by Jesus stilraak en Hom vra om hulle uit jou lewe te neem. Dit sal swaar wees, maar onthou, as God ‘n deur toemaak, maak Hy ‘n ander een oop. Hy wag dalk om ‘n spesiale vriend te stuur wat jou nader aan Jesus gaan bring.
Soms moet ons net oorgee en God in beheer plaas, selfs al beteken dit dat mense uit jou lewe gesny word. Jesus het altyd ons beste belang in Sy hart en met Hom in jou lewe sal jy nooit alleen wees nie.
Vriende Kies Goeie Pell
Gebed: Here, help my asseblief om mense wat nie goed is vir my nie uit my lewe te verwyder. Help my om vriende te vind wat ook vir U lief is. Dankie vir die goeie vriende wat U reeds in my lewe geplaas het. Ek bid vir my vriende en dat U hul harte sal aanraak en verander. Amen.
Uitdaging: Ondersoek die mense in jou lewe. Laat hulle ‘n positiewe indruk in jou lewe? Dink goed na oor die tipe persoon wat jy gaan toelaat om jou te verander. Vra Jesus om jou te wys wie jou vriende moet wees.