‘Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses.’ – Psalm 34:19
Ek kan nog onthou my ma het eendag inkopies gaan doen. Sy kon nie wag om vir my die nuwe, beeldskone blink koppies te wys wat sy gekoop het nie. Ek was eintlik moedeloos, want daar’s nie meer plek vir ‘n muis in ons kas nie! En toe moes ek ook nog die koppies in die kas uitpak. Die kas was net-net te klein, en die koppie het seker net 3 sentimeters oor die kas se rand gesteek. Ek druk toe die kas se deur toe, en hoop dat die koppie in forseer word, maar ek hoor toe net die aaklige geluid van ‘n koppie wat kraak.
Dit het my laat dink oor hoe hard ek probeer om in te pas. Ek forseer myself so hard om net in te pas, dat ek myself breek. Net soos die koppie beeldskoon vir my ma was, is ek beeldskoon vir Jesus. Ek is presies geskape soos wat Hy my wil hê, en Hy wil nie hê ek moet breek of kraak deur om in te pas nie. Ek is só spesiaal en uniek in God se oë, dat ek nie iewers hoef in te pas nie. Moet jouself nie inforseer nie wees jy net jy.
Unieke Koppies
Gebed: God, help my onthou dat ek beeldskoon is vir U. Help my dat ek nie myself forseer om in te pas en myself so breek nie. Dankie dat U my uniek en spesiaal geskape het. In Jesus se Naam, Amen.
Uitdaging: Maak ‘n punt daarvan om vandag op te let in watter situasies jy wou probeer om in te pas. Vra dan die Here om jou te help dat jy nie jouself forseer en breek om in te pas nie.