‘Gaan dus voort soos julle was toe God julle geroep het.’ – 1 Korintiërs 7:20
Ek het dit nog altyd so interessant gevind hoe legkaartstukkies aan mekaar gesit is. Elke liewe stukkie het ń ander vorm en voorkoms. Kan jy dink hoe sou ń legkaart flop as daar selfs net twee van dieselfde stukkies was? Of as die hele legkaart uit een vormpie bestaan het?
Ek kan myself met hierdie situasie vergelyk. As ek net ń normale legkaart stukkie is, speel ek ń baie belangrike rol. Die legkaart kan nie voltooi word sonder my nie, want ek is uniek en geen ander stukkie kan my vervang nie. Maar as ek gaan probeer inpas, en myself verander om soos die ander te lyk, het ek geen doel of plek meer nie. Ek besef nou dis belangrik om te onthou dat ek iewers spesifieks inpas. God het ń doel vir my, en Hy het my perfek geskape volgens Sy wil.
Sy Legkaartstukkies
Gebed: Here, dankie dat U my soos ń unieke legkaartstukkie geskape het. Help my asseblief dat ek nie myself verander om iewers anders in te pas nie. Ek vertrou U plan met my lewe. Amen.
Uitdaging: Vra vandag jou vriende of hulle dink ń legkaart sal werk wat bestaan uit dieselfde vorm stukkies. Vertel hulle van hoe elke mens ń unieke stukkie is, en hoe God wil hê ons moet ons vormpie bly.