‘Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.’ – FILIPPENSE 4:6
Bekommernis lyk so aanloklik. Ons bekommer ons, dan probeer ons die situasie na die beste van ons vermoë oplos, en dan misluk ons, en die siklus begin weer van voor af. Mislukking gebeur, want ons dink ons weet mos beter en kan alles self hanteer. Ons vergeet dat ons net mens is en geneig is om kortsigtig te wees.
Maar ons het ‘n hemelse Vader wat alles weet en hoe om dit te op te los. Jesus spoor ons aan om nie bekommerd te wees nie, maar om op God te fokus; Hy sê vir ons om die koninkryk van God te soek, en al hierdie dinge sal vir ons bygevoeg word (Matteus 6:33). Verder hoef ons, ons nie oor môre te bekommer nie, want môre sal oor homself bekommerd wees en elke dag sal genoeg moeilikheid van sy eie hê (Matteus 6:34). Fokus geheel en al op die Here en gee Hom jou probleme, want Hy kan dit vir jou oplos en dank Hom dat Hy vir jou sorg.
Ons Voorsiener!
Gebed: Liewe Hemelse Vader. Ek dank U dat U altyd my Voorsiener is en dat ek net my oë op U hoef te hou. Help my, Here, onthou dat U altyd in my behoeftes voorsien, selfs onder druk. In Jesus se naam, Amen.
Uitdaging: Dank die Here vir alles wat Hy daagliks vir jou doen, selfs onder druk. Wees doelbewus om op Hom te fokus wanneer dinge nie maklik voel nie.