Spreuke 15:1 “‘n Sagte antwoord laat die woede bedaar. Skerp woorde maak mense woedend.”
Liewe Jongmens, die Here wil hê dat ons Vredemakers moet wees. Ons moet in Vrede lewe met alle mense, maar ons kan dit nie doen sonder om Jesus te kies as ons Verlosser en Saligmaker nie. Wanneer jy Jesus gekies het en Hom eerste stel in jou lewe, dan sal Hy deur die Heilige Gees vir jou vrede uitstort in jou hart. Hierdie vrede is net vir Sy kinders bedoel!
In Romeine 12:16-21 sê Jesus dat ons in harmonie of vrede met mekaar moet leef, ons moenie baklei nie en moenie ander mense wil “terugkry” as hulle iets verkeerd aan ons gedoen het nie. Nee…Ons moet van ons kant af alles probeer doen om in vrede met mekaar te leef. Jesus sê: ”Doen eerder goeie dinge sodat ander mense kan sien dat julle God dien.”
Dit is waarom dit so belangrik is om gehoorsaam aan jou ouers te wees en te luister na wat hulle vir jou sê. Wanneer julle dalk mag verskil moet nie jouself vererg nie, maar luister en vra die Heilige Gees om jou te lei om soos Spreuke `n “sagte” antwoord te gee. So help ons om Vrede in ons gesinne te bewerkstellig.
Vrede is `n Keuse, kies vandag Vrede!
Gebed: Here Jesus, dankie dat U my vandag kom leer het dat ek as kind van U in Vrede met my familie en ander mense kan en moet lewe. Help my om daardie vrede binne in my te ontdek en uit te leef sodat ander kan sien ek is `n kind van U. Ek het U lief Here en ek wil gehoorsaam wees aan U Woord. Amen.
Challenge: Kies vandag om in vrede te leef! Begin by jouself. Leer om rustig te wees en laat die Heilige Gees toe om jou te lei en die regte woorde op jou lippe te sit sodat jy altyd `n “sagte” antwoord sal gee en so die Here se wil vir jou lewe te leef.
(Geskryf deur Lindie Steenkamp)