‘Kies jou vriende versigtig. ’n Ware vriend sal jou deur dik en dun bystaan. Soos ’n goeie broer is hy altyd by jou.’ – Spreuke 17:17
Verbeel jou dat jy met ‘n groep vriende op ‘n wandelroete is. Vriend #1 vra jou om van die water uit jou bottel te drink en gooi laggend die res op die grond uit. Vriend #2 haal swaar items uit sy rugsak en sit dit skelm in die ander se rugsakke. Vriend #3 raak ver agter en kla dat almal te vinnig stap.
In hierdie lawwe voorbeeld kan ons die vriende in ons lewe ook uitken. Dié wat ons goedheid as ‘n bespotting afmaak, diegene wat net aan hulself dink en hulle wat ons terughou. Maar dis baie moeiliker om jouself in die storie te identifiseer. Watter soort vriend is ons vir mense om ons?
In die boek van wyshede, Spreuke, hoofstuk 18 vers 24, lees ons van die tipe vriend wat beter as ‘n broer by jou staan. Dit is die soort vriend wat ons veronderstel is om te wees – die een wat die mense in hul lewens met oorgawe liefhet. Die grootste liefde word in Johannes 15:13 beskryf: om jou lewe af te lê vir ‘n vriend. Jesus is die volmaakte voorbeeld hiervan.
Is Ek ’n Goeie Pel
Gebed: Dankie Here dat U vir ons die volmaakte voorbeeld kom wys het van hoe om ‘n goeie vriend te wees deur Jesus na die wêreld te stuur. Wys my hoe om die mense wat U om my geplaas het lief te hê, sodat ek as ‘n goeie kosbare vriend gesien kan word. Amen.
Uitdaging: Jou uitdaging vir die week is om meer bewus te wees van watter tipe vriend jy is vir die mense om jou – insluitende jou familie. Watter invloed het jy op jou geliefdes? Na jy in gesprek met ander was, voel hulle geliefd en seker van hulself of voel hulle afgekraak en skaam?