What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Hoop in Hopeloosheid

Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!Romeine 15:13

Om te hoop, is nie net om te sê “ek wens” nie. Hoop is om met verwagting te vertrou dat iets sal gebeur, terwyl hopeloosheid tot wanhoop, depressie en selfs selfdoodgedagtes kan lei. Dis ‘n keuse om God tydens onmoontlike omstandighede te vertrou en te glo Sy planne is vir ons die beste, al voel dit nie so nie.

Miskien is jy 1 van miljoene mense wêreldwyd wat sukkel met angs, depressie, selfdoodpogings of net daaglikse vrees en hopeloosheid. Dis móéilik om met hierdie uitdagings hoopvol in God te bly. Gelukkig lê ons hoop in Christus se beloftes, selfs wanneer die vervulling van hierdie beloftes nog in die toekoms lê en onsigbaar is. Wanneer ons op God hoop, rig ons ons oë op Hom, eerder as op persoonlike omstandighede.

Dis jou keuse. Kies God se waarheid, laat Sy Woord toe om jou gedagtes te vernuwe, sodat jy deur die krag van Sy Woord geestelik versterk kan word. Waar begin ‘n mens? JY moet die keuse maak en die res sal volg met die hulp van God en die inspraak van die Heilige Gees.

Moeilike tye kom en gaan, maar God se beloftes bly onveranderd. Hy is ons toevlug, ons vreugde, ons verlosser, ons hulp, ons krag en ons vertroosting.

Wanneer dit met jou regtig sleg gaan en jy wil moed opgee, is dit moeilik om te vertrou en te bly hoop. Steun dan op die ondersteuning van medegelowiges. Daarom: #daarisaltydhoop #daarisaltydhulp #praatdaaroor.

Hoop in Hopeloosheid

Gebed: Here, ek wil met hoop lewe, maar ek sukkel. Versterk my hoop sodat ek met vertroue en afwagting kan uitsien na hoe U hopeloos na hoopvol in my lewe sal verander. Amen.

Uitdaging: Besluit op ‘n werkbare plan wat jy kan volg om met hoop in Jesus te leef.