Die versoekings wat oor julle kom, is dieselfde as wat enige ander mens teëkom. God sal julle nie in die steek laat nie, maar doen wat Hy gesê het. Hy het mos gesê dat Hy nie dinge met jou sal laat gebeur wat jou as Christen van balans af sal gooi nie. As daar dan dinge gebeur wat jou van God se pad wil afkry, sal God jou help om die regte besluite te neem en jou dan die krag gee om te doen wat jy besluit het.” – 1 Korintiërs 10:13
“Wees gehoorsaam aan God en net aan Hom. Verklaar die duiwel vyand nommer een in jou lewe en gee hom nie `n enkele kans nie. Hy sal dan van jou af padgee omdat hy niks kan regkry nie. Julle moet God se hand al hoe stywer vashou; dan sal Hy jùlle hand ook al hoe stywer vashou. As julle verkeerde dinge doen, hou op daarmee. Hou op om aan die een kant God te wil dien en aan die ander kant nog met julle sondes aan te gaan.” – Jakobus 4:7
“…wysheid om reg te leef kom net van die Here af. Kennis en insig is net by Hom te kry”. “Moet nooit ophou om die Here lief te hê nie. Bind al die Spreuke soos `n kettinkie om jou nek. Skryf dit in jou hart sodat jy dit nooit vergeet nie …” – Spreuke 2: 6; 3:3
Dit maak nie saak watter versoekings vandag oor jou pad kom nie, die Woord van die Here sê Hy sal jou krag gee en help om die regte keuses te maak. Hou jy maar net Sy hand styf vas!
Hoe Weet Ek Wat Is Reg en Wat Is Verkeerd
Gebed: Here, gee asseblief vir my krag en wysheid wanneer versoekings oor my pad kom. Amen.
Uitdaging: Begin vandag en lees Spreuke. Bind dit om jou nek soos `n kettinkie en skryf dit op jou hart sodat jy dit nooit sal vergeet nie. Wees lief vir die Here. Onthou: Wysheid begin met die dien van die Here!