What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Hoe Groei Pelle Saam In Jesus

“Yster slyp yster. So vorm mense mekaar.”Spreuke 27:17

“In tye van nood leer jy jou vriende ken. Sommige praat net, maar doen niks nie. Ander sal alles vir jou doen. Hulle is nader aan jou as ’n broer.”Spreuke 18:24

Ware vriende reflekteer God se hart en is ‘n voorbeeld van Sy genade. In vandag se tyd moet ons baie beproewings en uitdagings hanteer en Satan is nie ‘n regverdige bakleier nie. ‘n Vriend is ‘n steunpilaar en kan jou deur moeilike tye help. Soms het jy net ‘n mooi antwoord of ‘n skouer om op te huil nodig. Daar is geen beter plek om na te draai as na jou vriend nie. Om te toets of jou vriend lief is vir God, gebruik die ABC – julle bou mekaar altyd op, cheer mekaar aan, en bring mekaar nader aan Jesus.

Dwase trek jou af, maar vriende moedig jou aan. ‘n Goeie vriend sal jou aanmoedig om te groei om ‘n beter weergawe van jouself te word. ‘n Vriendskap wat van Jesus is, is een van die grootste geskenke wat ons ooit kan ontvang en iets wat ons altyd moet koester. Dis makliker om saam met ‘n goeie vriend in jou Christenskap te groei. Julle kan saam bid en mekaar ondersteun om deurbrake te ervaar.

Ja, dis wonderlik om vriende te hê wat lief is vir die Here, maar dis net so belangrik om selfondersoek in te stel en seker te maak jy voldoen ook aan die vereistes. Is jy hoopvol, opbouend en aanmoedigend? Ons hoef natuurlik nie perfek te wees nie, maar ons kan nie van ons vriende verwag om aandag aan ons vriendskap te gee, terwyl ons terugsit en niks doen nie. Doen moeite om ‘n goeie vriend te wees en jy sal sien hoe jul vriendskap sommer baie hegter word.

Ralph Waldo Emerson het ‘n belangrike ding gesê: om ‘n vriend te hê, is om ‘n vriend te wees. Praat met jou vriende en kyk waar julle mekaar kan help. Probeer om soos Jesus te leef en gee aandag aan jou verhouding met Hom en aan jou vriendskappe.

Hoe Groei Pelle Saam In Jesus

Gebed: Jesus, dankie dat U vir ons die geskenk van vriendskap gegee het. Ek bid vir my vriende en vra dat U hulle sal help met hul probleme. Help my om U te reflekteer in hoe ek leef en om ‘n beter vriend te word vir die mense in my lewe. Amen.

Uitdaging: Praat met jou viende en vra hulle hoe jy ‘n beter vriend kan wees. Bid vir hulle en kyk wat jy vir hulle kan beteken hierdie week.