Is daar ‘n doel met pyn in die lewe? En hoe kan God dit gebruik om Sy doel in ons lewe te bereik?
“Ons kan nou van een saak seker wees: God gebruik elke ding wat in ons lewens gebeur om Sy doel te bereik. Vir ons wat vir God liefhet, werk alles tot ons beswil uit.” – Romeine 8:28
Wanneer ons dink aan pyn en lyding, vra ons gewoonlik: Hoekom? Hoekom gebeur slegte goed met goeie mense? Slegte goed het al met ons almal gebeur en daar gaan in die toekoms nóg slegte goed gebeur. Nie omdat God vir ons ’n les wil leer of omdat Hy vir ons kwaad is of ons wil toets nie. Nee, slegte goed gebeur, omdat die wêreld waarin ons leef, gebroke is.
Ons het ‘n vrye wil om te kies wat ons wil doen. Partykeer maak ons die verkeerde besluite wat seer en pyn in ander se lewens veroorsaak. Wanneer hierdie uitdagende dinge in ons lewens gebeur, herinner Paulus ons in Romeine dat God vir elkeen wat Hom liefhet, alles laat uitwerk tot ons beswil.
Paulus sê wanneer dinge sleg gaan en wanneer mense dinge aan ons doen wat seermaak, dat ons juis dan moet aanhou om aan God vas te klou. Dit is in hierdie situasies waar jy kan besluit of jy gaan toelaat dat die keuses van ander jou onderkry óf jy kan kies om te sê dat, ten spyte van swak keuses deur ander, weet ek dat God my kan help om hierdie slegte situasie te verander na ‘n positief.
Het Pyn ‘n Doel?
Gebed: Almagtige hemelse Vader, dankie vir die geleentheid en voorreg om U kind te kan wees. Help ons om in hierdie gebroke wêreld hoopvol te bly en maak ons opnuut bewus dat U alles ten goede sal laat meewerk. Amen.
Uitdaging: Wat maak jy met seer in jou lewe? Besluit vandag om in die donker tye by God se voete te gaan sit, eerder as om die skuld vir dit wat gebeur vir iemand te probeer gee.