What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Groei

“Ons sal nie meer soos klein kindertjies onseker wees oor wat van ons verwag word nie. Ons sal nie soos ’n skip wees wat deur die golwe rondgeslinger word of deur die een wind hiernatoe en die ander wind daarnatoe gedryf word nie. Net so sal ons nie na elke nuwe godsdienstige praatjie op die mark luister nie. Mense probeer jou net met allerhande slimmighede om die bos lei om jou so op die verkeerde pad te laat beland. Maar hulle sal dit nie regkry nie. Ons sal in liefde lojaal teenoor mekaar en net op die pad van die waarheid bly. Ons verhouding met Jesus sal in alles net sterker word. Ons, as die liggaam, sal al hoe meer van Christus afhanklik wees, want Hy is mos die kop van die liggaam.” – Efesiërs 4:14-15

Wanneer ons jonk is, is ons afhanklik van volwassenes om ons te beskerm en te lei op die regte pad. Ons kan nog nie vir onsself besluite maak nie, alhoewel ons somtyds dink ons kan.

Soos ons ouer word, leer ons wat is reg en wat is verkeerd en wat is die nagevolge van ons keuses en dade. Die regte roete is nie altyd die maklike een om te volg nie, maar wanneer ons sterk genoeg is in ons verhouding met God, kan ons enigiets aanpak.

Hoe meer sensitief ons vir die Heilige Gees en Sy leiding is, hoe makliker is dit om nie deur die wêreld geaffekteer te word nie. Hoe meer ons Hom ken, hoe meer kan ons soos Hy begin lewe en optree.

Groei

Gebed: Jesus, ek wil nie soos ‘n klein boom in die wind heen en weer gewaai word nie. Ek wil vasstaan in U waarheid. Ek weet ek kan dit net doen wanneer ek die Waarheid ken. Help my om U elke dag beter te leer ken sodat ek in elke situasie kan weet wat U sou doen. Amen.

Uitdaging: Maak ‘n punt daarvan om meer Bybelverse te leer. Skryf die vers in ‘n boekie en lees dit deur die dag sodat jy dit uit jou kop kan sê.