‘“Moet julle daarom nie bekommer en vra, ‘Wat sal ons eet?’ of ‘Wat sal ons drink?’ of ‘Wat sal ons aantrek?’ nie. Dit is immers alles dinge waarna die heidennasies soek. Julle hemelse Vader weet tog wat julle alles nodig het. ‘ Matteus 6:31-32
https://my.bible.com/bible/3499/MAT.6.31-32
Hoeveel keer het jy al ooit by die huis gekom na ʼn lang dag en jou ouers het net heeltemal vergeet om jou kos te gee? Daar is natuurlik situasies waar kos nie altyd beskikbaar is nie, maar dit gebeur nooit regtig dat ons van kos vergeet nie. Ons raak honger, ons moet eet.
Hoekom is ons dan soms so bang dat God gaan vergeet van die dinge wat ons nodig het? Is God nie soveel wyser en meer liefdevol as ons nie? Kan God nie dan soveel meer as ons onthou en verstaan nie? Jesus moet die mense herinner in ons vers dat God weet van ons behoeftes.
Dis vir ons regtig goeie nuus, maar ook nuus wat soortvan obvious is. God weet wat ons nodig het en Hy sal vir ons sorg. Ons hoef nie bekommerd te wees dat God ooit van ons of van ons behoeftes sal vergeet nie.
God vergeet nie van ons behoeftes nie.
Gebed: Dankie Here dat U weet wat my behoeftes is en my elke dag leer om op U te vertrou. Ek bid dat ek sal onthou dat U naby aan my is en dat as ek ʼn behoefte het ek ook met U daaroor kan praat… Amen.
Uitdaging: Het julle geweet dat die rede waarom ons drie dotjies aan die einde van die gebed (voor Amen) sit is dat ons hoop die gebed nie daar eindig nie? Soos jy kan, neem ekstra tyd om met God te praat na elke Padkos bybelstudie.