Fillipense 4:19 DB “Hy sal vir julle sorg deur vir julle te gee wat julle nodig het. Dit sal Hy doen omdat julle aan Jesus behoort.”
Ek onthou toe ek in die skool was moes ek altyd ekstra hard leer. My vriendin kon die werk ‘n paar keer deur lees, dan kry sy amper volpunte, maar ek het dit nie so maklik gehad nie. Moet jou nooit met ander vergelyk wanneer jy jou beste gee nie, want JY is mos Jy! Ek het hard geleer, gebid vir wysheid en dan die Here vertrou vir die res, Hy het my nooit teleurgestel nie. Hy het voorsien!
Alles wat jy doen moet jy doen asof jy dit vir Hom doen, ook wanneer jy huiswerk doen of leer vir die eksamen. Doen altyd jou beste en Hy sal vir die res sorg. Hy is ons God wat voorsien, Jahweh Jireh (Genesis 22:14).
Bid, Glo en Vertrou: DIE HERE SAL VOORSIEN!
Gebed: Jahweh Jireh, ek smeek vandag asseblief vir wysheid. Help my asseblief dat ek elke dag my beste vir U sal gee. U sal my help. U maak my sterk. U beskerm my met U krag. Dankie dat U altyd vir U kinders voorsien. Amen.
Uitdaging: Gaan hierdie eksamen in saam met die Here. Soek Sy beloftes vir jou op in die Woord en maak dit jou eie. Staan vas daarop. Kies om jou beste te gee!
(Geskryf deur Lindie Steenkamp)