What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

God Praat Deur Gebed

“Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.”Filippense 4:6

Paulus skryf hierdie brief terwyl hy in die tronk sit. Wanneer ’n persoon in die tronk sit, is om positief te wees die laaste ding waaraan ‘n mens dink. Maar Paulus se positiwiteit trek my aandag. In hierdie gedeelte word daar verduidelik dat gelowiges eerder moet bid as wat ons bekommerd raak oor die dinge wat ons pla.

Wanneer ons dit regkry, sal ons vrede hê. Dit is soms moeilik om ons nie te bekommer oor dinge wat belangrik is vir ons nie, dit voel eintlik onmoontlik om net oor te gee en te vertrou. Maar dit is juis in hierdie tye waar ons as God se kinders nie die stryd alleen moet aanpak nie, maar eerder bid en dit wat ons pla by God se voete neersit.

Ons dink soms dat gebed ‘n gesprek is wat ons inisieer en ons lig God in oor ons behoeftes. Dis juis waar ons die fout maak. Om te bid is ‘n gesprek wat God geïnisieer het. Hy het net ‘n behoefte om die pad saam met ons te stap. Dat ons nie onsself dood stres oor skoolwerk of vriende of verhoudings nie, maar dat ons juis in hierdie tye by Hom gaan sit, want ons is nie alleen nie. God staan met oop arms agter ons reg om ons te vang wanneer ons val juis sodat ons vrede kan hê.

God Praat Deur Gebed

Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U vandag steeds met U kinders praat. Waar dinge soms net te veel raak, vra ons dat U ons sal help om na U toe te draai om ons te help. In Jesus naam. Amen.

Uitdaging: Wanneer jy weer in ‘n situasie is wat spanning veroorsaak, haal diep asem en bid. Probeer om die heeltyd bewus te wees van die Here se nabyheid en praat met Hom, veral wanneer dit te veel raak.