“Daarna sal Ek my Gees op alle mense uitstort. Julle seuns en julle dogters sal profeteer. Julle ou mense sal drome droom. Julle jong mense sal visioene sien.” – Joël 2:28
Regdeur die Bybel is daar verhale waar mense drome gedroom het met belangrike betekenisse soos: Josef het gedroom oor koring wat voor hom buig toe hy jonger was. Jare later, nadat daar soveel dinge in sy lewe gebeur het, het hy die simboliese betekenis raakgesien toe sy broers wat hom verkoop het, voor hom gebuig het tydens die groot hongersnood.
Oral in Die Bybel lees ons hoe God Sy planne openbaar aan die wat naby aan Hom is, maar tog sukkel ons om in ons eie lewens raak te sien hoe God met ons praat.
Nie alle drome het ‘n groot betekenis nie, maar dis so duidelik om te sien wanneer iets van God kom. Soms kry ons drome wat ons ‘n klein glinster gee van die onbeskryflike dinge wat God vir ons in die toekoms het. Soms droom ons van ‘n geliefde oorledene. Dit troos ons na ‘n skielike dood.
Drome is ‘n wonderlike middel wat God gebruik om met ons te praat!
God Praat Deur Drome
Gebed: Dankie Here, dat U ons gebede antwoord en dat U ons seën met wonderlike openbarings. Help ons om vas te klou aan ons drome en U altyd eerste te plaas. Amen.
Uitdaging: Probeer om jou drome volgende keer te ontleed en as jy sukkel, bid tot God om jou te help, voordat jy net jou drome afskryf as onbelangrik.