“Moses het egter teëgestribbel: “As ek by die volk van Israel kom en vir hulle sê: ‘Die God van julle voorouers het my na julle toe gestuur,’ sal hulle my nie glo nie. Hulle sal vra: ‘En wie is Hy eintlik?’ Wat moet ek dan vir hulle sê?”God het hom geantwoord: “Ek is soos wat Ek is. Sê maar net vir hulle: ‘Ek Is’ het my na julle toe gestuur.”’
Wanneer ons ons Bybels lees en praat met of oor God, het ons almal ‘n prentjie in ons koppe van HOE Hy is. Dit kan moeilik wees om onsself te probeer indink hoe God fisies lyk aangesien Hy onsigbaar is, maar ons kan God se karakter sien in alles wat Hy doen.
Iemand het eenkeer gesê dat om vir God te sien is soos om die wind in die bome te sien. Jy kan nie die wind sien nie, maar jy sien die effek daarvan. Op dieselfde manier is God in ons lewens betrokke, besig om goed te laat gebeur en altyd naby, selfs wanneer ons nie Sy teenwoordigheid kan sien of voel nie weet net Hy IS daar.
God is konstant (Jakobus 1:17). Hy is dieselfde, gister, vandag, en vir ewig (Hebreërs 13:8).
Vandag se vers wys hoe God vir Moses sê: “Ek is”. God is jou Skepper, jou Pa, jou Redder en jou Verlosser. Die Bybel is vol verse wat ons vertel van God: Hy is stadig tot woede, vol liefde, vinnig om te vergewe, en soveel meer!
God is wie Hy is. Ons kan Sy teenwoordigheid sien in ons lewens as ons naby kyk.
Gebed: Liewe Vader, Dankie dat U nie verander nie en dat U hart altyd vir my is. Help my om U hand in my lewe te kan raak sien. Ek het geloof dat U alles laat uitwerk en dat U nie vêr van my af is nie. Sal U vandag naby aan my wees en my deur nuwe maniere bewus maak van U nabyheid? Amen.
Uitdaging: Let vandag op na die wind in die bome en dank die Here vir Sy altyd-daar-wees.