What language do you prefer?

Close

Ontvang elke weeksdag jou padkos in die bed via WhatsApp.

Klik hier
| Terug

Doen Wat Die Coach Sê: Bly In Beheer!

Saam met kennis gaan selfbeheersing. Moenie toelaat dat sondige begeertes julle ooit onderkry nie.2 Petrus 1:6

Coach Petrus het ons al ‘n paar dinge geleer – streef daarna om altyd die regte ding te doen en wees wys. Nou wil Petrus vir ons leer van selfbeheersing.

Dit is nie so maklik soos wat coach Petrus dit laat klink nie. Partykeer wonder ek of hulle in daardie tyd ook so baie versoekings gehad het wat vir hulle op die voorstoep staan en wag het. Deesdae is dit baie maklik om op die interessante link te kliek, ‘n vinger te gooi vir die bestuurder, of ‘n lelike woord vir jou ouers te mompel.

Soos enige goeie coach weet Petrus waarvan hy praat wanneer hy sê dat ons nie moet toelaat dat sonde ons lewe oorneem nie. Hy moedig ons aan om al sy lesse bymekaar te sit sodat ons ‘n goeie lewe kan leef vir God.

Ons word elke dag getoets of ons selfbeheersing het. In klein dingetjies en in groot dinge. Ons is mens. Ons natuur is om sonde te doen en te val vir die leuens wat satan in ons oor fluister. Gelukkig kan ons met sekerheid weet dat ons nie alleen teen hom hoef te veg nie. Inteendeel! God het satan reeds oorwin, oor elke gebied wat bestaan. Oor pornografie. Oor leuens vertel. Oor skinder. Oor wantroue. Oor lelike gedagtes.

Ons kan nie in die vlees selfbeheersing toepas nie. Dit is te moeilik en sonde is partykeer net te lekker. Sonde bring dalk tydelike lekkerte, maar dit bring ook die dood (Romeine 6:23). Sonder selfbeheersing doen ons baie vinnig sonde. Daarom moet ons met elke keuse wat ons maak, selfbeheersing toepas.

Die Heilige Gees is in ons en sonder Hom kan ons nie selfbeheersing toepas nie. Net in die Gees kan ons met sekerheid weet dat die regte dinge gedoen sal word.

Doen Wat Die Coach Sê: Bly In Beheer!

Gebed: Here, dit is so moeilik om nee te sê vir sekere dinge. Heilige Gees, staan saam met my teen die verkeerde dinge op, want ek kan dit nie in my eie vlees doen nie. Amen.

Uitdaging: Skryf die dinge neer waar jy weet jy gewoonlik selfbeheersing verloor. Bely aan God dat hierdie areas vir jou moeilik is en bid Sy Naam oor elke area en dat dit gebreek sal word. Wanneer jy die slagveld vir God gee, sal Hy dit kan oorwin.