“God het aan elkeen van julle ’n genadegawe gegee. Met hierdie gawes moet julle mekaar dien sodat God se ryk genade deur julle na mekaar toe kan vloei.” – 1 Petrus 4:10
Het jy al agtergekom dat dit baie makliker is om te gee wanneer jy baie het? As jy ‘n hele sakkie appels het, deel jy maklik een met ‘n vriend. Dit is wanneer jy net een appel oor het, wat dit bietjie moeiliker raak om jou hand oop te maak.
God gee vir ons elkeen ‘n gawe, en dit in oorvloed. Hy wil hê dat ons daardie gawe moet gebruik om ander mense te dien. Sommige van ons weet nog nie presies watter gawe Hy vir ons gegee het nie, maar selfs jou persoonlikheid is deel van hoe Hy jou gemaak het.
As jy ‘n baie geduldige persoon is, gebruik dit om vir mense te wys dat God altyd geduldig is. Elke deeltjie hoe Hy jou gemaak het, is goed. Deel daardie goed met almal om jou.
Dien Ander
Gebed: Dankie Jesus, vir al die gawes wat U vir my gegee het, al is ek steeds besig om dit te vind. Ek wil graag dit wat U vir my gegee het, met ander mense deel. Maak my hart sag vir wat U hart sag maak en maak my hande oop om makliker te dien. Amen.
Uitdaging: As jy weet wat een van jou gawes is, maak ‘n lysie hoe jy dit hierdie week kan gebruik om ander te dien. As jy nog nie weet nie, dink aan een van jou goeie kwaliteite – dit is een van die gawes wat God vir jou gegee het.