Johannes 15:13 DB “As jy regtig jou liefde wil ‘toets’, toets dit hieraan: liefde beteken om bereid te wees om doodgemaak te word ter wille van jou vriende, net omdat hulle jou vriende is.”
Jesus, die Seun van God, het gekies om Sy lewe neer te lê vir ons, nie omdat ons Hom iets kon bied nie, maar omdat Hy ons so liefhet. Hy dink aan ons as nabye vriende, nie volgelinge op ‘n afstand nie. Wat ‘n besonderse geskenk! Jesus neem die idee van vriendskap na die volgende vlak.
Hy noem ons nie net vriende wanneer dinge goed gaan nie. Hy noem ons vriende wanneer ons verlore is, foute maak en sukkel. Die liefde van Jesus is konstant en ‘n anker in die lewe se storms. Sy liefde en vriendskap kan jou lewenspad bepaal. Sy liefde gee jou krag om ‘n verskil te maak.
Sy liefde vergewe, gee oor, lê neer en sal jou nooit verlaat nie.
Gebed: Liewe Here, dankie vir die ongelooflike liefde wat U vir ons gewys het deur Jesus se lewe. Gee ons die moed om by ons vriende te staan en besluite te maak wat U hart reflekteer. In Jesus se naam, Amen.
Uitdaging: Wys liefde in aksie. Help ‘n vriend, luister, of bemoedig iemand wat dit nodig het. Dink nou hieroor: Vir wie kan jy vandag help?
(geskryf deur Dorian Adams)