“’n Ruk later het Simson op ’n vrou in die Sorekvallei verlief geraak. Haar naam was Delila. “15Sy kerm toe by hom: “Hoe kan jy sê jy is lief vir my, maar jy vertrou my glad nie? Drie keer het jy my al vir die gek gehou. Jy wil nog steeds nie vir my sê waarin jou krag lê nie.” – Rigters 16:4,15
Verhoudings is wonderlik en om verlief te raak, is net so lekker. Die opwinding van ’n groet, ’n glimlag van die een op wie jy verlief is … ai, dit maak sommer jou hele dag! Hy kan net niks verkeerd doen nie en sy is die mooiste skepsel op aarde. Dit is ’n wonderlike ervaring, maar verlief wees kan ook maak dat ons swak besluite neem.
Neem nou vir Simson as ’n goeie voorbeeld van iemand wat verlief geraak het en swak besluite geneem het, terwyl hy gemanipuleer is deur die persoon op wie hy verlief was. Delila het hom gebruik om te kry wat sy uit die verhouding wou hê en het nie omgegee wat met hom gebeur nie. Dit gebeur so baie in verhoudings!
Verhoudings en verlief wees is wonderlik en daar is niks daarmee verkeerd nie, maar jy moet jouself en jou hart beskerm.
Geen persoon is dit werd dat jy jou waardes en beginsels vir hulle prysgee nie. Jy het waarde en is meer as net ’n plekhouer tot die persoon besluit hulle soek iemand anders. Laat God toe in jou verhouding, want Hy wil die beste vir jou hê en is lief vir jou. “Want ek is gedurig bewus van U liefde.” – Psalm 26:3.
Onthou, liefde kan blind wees.
“Date” Reg
Gebed: Liefdevolle God, help my om ’n gesonde verhouding te hê. Ek besef ek is soms blind vir die foute van die persoon op wie ek verlief is. Help my om nugter te dink. In Jesus se Naam, Amen.
Uitdaging: Gaan praat met jou vriende oor ’n persoon op wie jy verlief is. Vra hulle wat hulle van hom/haar dink. Vra vrae oor gedrag/waardes/karakter.