“Moenie dink jy weet altyd die beste nie. Begin eerder elke dag weer van voor af om die Here lief te hê. En los tog al die slegte en verkeerde dinge. Vertel die Here alles waaroor jy dink, alles wat jy wil doen. Dan sal jy sien hoe Hy jou help. So ’n lewenshouding sal jou baie gelukkig maak.” – Spreuke 3:5-6
“Ons kan nou van een saak seker wees: God gebruik elke ding wat in ons lewens gebeur om Sy doel te bereik. Vir ons wat vir God liefhet, werk alles tot ons beswil uit.” – Romeine 8:28
Martin Luther King Jr. het genoem dat hy so ‘n besige lewe lei, dat dit onmoontlik is vir hom om deur sy dag te kom sonder ten minste 3 ure se gebed. Dink net aan sy verhouding met God!
Dis ‘n belangrike aspek wat ons dikwels afskeep wanneer ons aan ons toekoms beplan – om die stuurwiel vir God te gee sodat Hy ons kan stuur waar Hy wil hê ons moet gaan. Wanneer die lewe te veel raak en ons oorweldig, is ons geneig om die stuurwiel terug te neem wat ons vir God oorgegee het.
Die profeet Elia het ‘n soortgelyke ervaring gehad toe hy na God geroep het om hom dood te maak, want hy het genoeg gehad (1 Konings 19). Wat het God gedoen? Hy het vir Elia beskerm terwyl hy geslaap het en aan hom kos gestuur. God sal jou nooit versaak nie, selfs al baklei jy om beheer by Hom oor te neem. In so ‘n situasie is dit net geloof wat ons aan die gang hou.
Roep Jesus aan! Hy sal nooit te besig wees vir jou nie. As jy twyfel oor jou toekoms, praat met Hom daaroor. Jesus se selnommer is geskryf in Psalm 50:15 – “As jy probleme het, roep My om te help en Ek sal jou help.” Hierdie oproep is gratis en die nommer sal altyd beskikbaar wees. Is jy ook beskikbaar vir Hom? Jy moet wag en geduldig luister vir ‘n antwoord. Miskien kom dit wanneer jy dit die minste verwag!
Bly God Vertrou, Selfs Onder Druk
Gebed: Here, dankie dat U ‘n plan het vir my toekoms en dat U altyd daar is vir my, selfs wanneer ek teen U optree. Ek bid dat U aan my sal openbaar wat U wil hê ek met my lewe moet doen, en dat my hart ontvanklik sal wees vir U woord. Amen.
Uitdaging: Luister en kyk uit vir enige tekens van God se plan vir jou lewe. As jy dit vind, skryf dit in jou joernaal om tred te hou daarmee, of deel dit met iemand.