‘Toe het Jesus weer met hulle gepraat en gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal beslis nie in die duisternis leef nie, maar sal die lig van die lewe hê.”’ – Johannes 8:12
Het jy al ooit na iemand gekyk wat gimnastiek doen, skaatsplank of branderplank ry? Die persoon laat dit so maklik lyk om balans te hou nè? Wanneer ons dit dan self probeer, is dit vir ons ‘n uitdaging en ons val meer as enigiets anders.
Onthou jy toe jy begin leer het om fiets te ry? Dit was aanvanklik moeilik, jy het baie geval en seergekry, maar elke keer het jy opgestaan, stof afgevee en weer probeer. Nou doen jy dit sommer vanselfsprekend.
Dit is so in ons lewe ook en die beste van alles is, God is die heeltyd langs ons en by ons om ons op te tel as ons val, wonde te versorg en om ons te motiveer om verder aan te gaan. Ons gaan baie val en seerkry, maar laat God toe om jou op te tel en daar te wees vir jou, want Hy wil!
God gee ons die deursettingsvermoë om weer te probeer en aan te gaan.
Balans, Aanhou Probeer
Gebed: Here, dankie dat U altyd hier is vir my om my op te tel wanneer ek val. Gee my asseblief die deursettingsvermoë om altyd weer te probeer. In Jesus se Naam, Amen.
Uitdaging: Volgende keer as jy voor ‘n uitdaging te staan kom – of dit nou ‘n skoolopdrag, ‘n persoonlike doelwit of ‘n nuwe vaardigheid is – onthou die tye wat jy gesien het hoe vaardige atlete sukkel en dan uitblink. Pas dieselfde bepaling toe. As jy struikel, staan op, vermy twyfel en probeer weer. Erken God se ondersteuning in jou reis.